Sekuriteit en privaatheid terwyl Outline gebruik word
Sekuriteit en privaatheid terwyl Outline gebruik word
Hoe Outline jou aanlyn kommunikasie beskerm
Internetverkeer is die kwesbaarste vir dophouding wanneer dit deur jou plaaslike of nasionale netwerk beweeg.
Outline help om jou kommunikasie privaat te hou deur jou internetverkeer te enkripteer terwyl dit binne jou nasionale netwerk beweeg en hou dit geënkripteer totdat dit die Outline-bediener bereik. Wanneer verkeer geënkripteer word met Outline, kan netwerkdophouers nie die webwerwe wat jy besoek of die inligting wat jy oordra, inspekteer nie.
Outline kan jou ook help om toegang te herwin tot veilige punt-na-punt-kommunikasienutsgoed wat dalk nie andersins in jou land toeganklik sal wees nie.
Enkripsiestandaarde
Outline enkripteer kommunikasie tussen jou toestel en die Outline-bediener met gebruik van die AEAD 256-bis Chacha2020 IETF Poly 1305-kode. AEAD-kodes bied vertroulikheid, integriteit en egtheid, en lewer uitstekende werkverrigting op moderne hardeware.
Sekuriteitoudits
Outline is in 2018 geouditeer deur Radically Open Security en Cure53, twee onafhanklike digitalesekuriteitorganisasies wat sagteware nagaan teenoor die jongste sekuriteitstandaarde. Radically Open Security het in 2022 ’n bykomende oudit uitgevoer en Cure53 het in 2024 ’n oudit van die Outline SDK uitgevoer. Jy kan die verslae hier lees:
- Radically Open Security Penetration Test Report (Maart 2018)
- Cure53 Pentest & Audit Report Jigsaw Outline (Desember 2018)
- Radically Open Security Penetration Test Report (Desember 2022)
- Cure53 Pentest Report Jigsaw Outline VPN SDK (Januarie 2024)
Anonieme maatstawwe en loglêers
Outline spoor die bandwydte wat gebruik word na as “grepe oorgedra” vir elke toegangsleutel. Met hierdie inligting kan bedieneradminstrateurs hul bandwydte-intekeninge aanpas by hul wolkdiensverskaffer soos nodig, maar dit laat hulle nie toe om die werklike inligting te sien wat deur die Outline-bediener beweeg het nie.
Kry meer inligting oor Outline se data- en inligtinginsameling.
Gereelde vrae oor sekuriteit en privaatheid
Kan Outline my aanlyn anoniem maak?
Nee, Outline is nie ’n nutsding wat jou anoniem kan maak nie. Outline beskerm jou privaatheid teen potensiële netwerkdophouers.
Outline bied jou nie volle anonimiteit op die webwerwe wat jy besoek nie, omdat hulle jou steeds kan identifiseer wanneer jy aanmeld en soms deur tegnieke soos blaaiervingerafdrukneming. Vir mobiele apps het die meeste moderne slimfone API’s wat geïnstalleerde apps toelaat om jou ligging onafhanklik van jou instaanbediener na te spoor omdat hulle op die ingebedde GPS kan staatmaak.
VPN’e bied oor die algemeen belangrike beskerming, veral teen internetdophouery, maar daar is altyd risiko’s wanneer jy aanlyn werk. Selfs met ’n VPN, indien ’n internetdiensverskaffer reeds bewus is van jou identiteit en jou netwerkverkeer kan sien, kan dit moontlik wees om die IP-adres van jou Outline-bediener te bepaal. Hierdie inligting kan gebruik word om toegang te blokkeer na die Outline-bediener of om gebruikspatrone te leer, soos wanneer jy gewoonlik aanlyn is, en moontlik ook jou benaderde ligging.
Weet ander mense of ek Outline gebruik?
Moontlik. Die platforms en dienste waarby jy ingaan sal bes moontlik weet dat jou verbinding vanaf ’n wolkbediener kom. Soms kan hulle aflei dat jy ’n VPN gebruik, maar hulle sal nie die inhoud van jou internetverkeer kan sien nie.
Beskerm Outline my teen alle moontlike kuberbedreigings?
Nee. Geen enkele nutsding kan jou teen alle kuberbedreigings beskerm nie. Outline gee vir jou toegang tot die oop internet en verbeter jou privaatheid deur jou verkeer te enkripteer, maar ons beveel aan dat jy bykomende voorsorgmaatreëls tref om jouself te beskerm teen ander soorte aanvalle, soos wanware en uitvissing.
Oorweeg dit om met jou organisasie se kubersekuriteitkenner saam te werk om jou aanlyn verdediging te versterk. Anders kan jy gepersonaliseerde leiding by die voorste sekuriteitkundiges kry by Security Planner, ’n webwerf wat gebou is om vir jou duidelike instruksies te gee oor die keuse van die korrekte kubersekuriteitnutsgoed vir jou kwessies.
Jy kan ook gaan kyk na ander kubersekuriteitprodukte van Jigsaw, soos Intra, Project Shield en Wagwoordwaarsku.
Is dit wettig om ’n VPN te gebuik?
Gaan asseblief plaaslike wetgewing, regulasies en die diensbepalings van die wolkdiensverskaffer wat jy wil gebruik na voordat jy met Outline of die app werk.